Vriendskaplike Hoërskole MTB wedren in die berge van Magalies

Die Hoër Tegniese Skool John Vorster gelee teen die pragtige Magalies bergreeks in die hart van Pretoria maak gereed vir die eerste Hoërskole bergfiets vriendskaplike wedren wat plaasvind op 4 Maart 2017. Die wedren word aangebied deur Solomons Cycles en Anatomic – die twee groot name in die fietsry industrie het beide hul voetspore al diep getrap in die ontwikkeling van skole fietsry in Gauteng en Noord Wes en het huishoudelike name geword onder talle laerskool en hoërskool bergfiets ryers.

Die vriendskaplike wedren bied ryers vanaf die ouderdom van 14 tot 18 jaar oud die geleentheid om teen ryers van ander skole te kompeteer en kragte op te meet voor die Spur High Schools MTB wedrenne wat later die jaar plaasvind. Die roete is beplan en uitgelê deur Heinrich Moldenhauer, ‘n bekende naam onder die skole bergfiets ryers met sy betrokenheid in skole fietsry wat uitstaan deur die passie wat hy betoon jaar na jaar. Heinrich se doel met die roete was om dit nie te moeilik te maak vir beginners nie maar ook nie te maklik vir die ervare ryers nie. Die roete is dus nie tegnies nie maar die klim sal die longe en bene beslis uit toets. Die skilderagtige roete waarop Heinrich die ryers laat ry op 4 Maart  bestaan uit 4.4km met 45m se klim , hoofsaaklik 3 kort klimme met ‘n gradiënt van 6° maksimum.

Die netjiese roetes uitgelê deur Heinrich Moldenhauer

Elke skole bergfiets wedren is “sanctioned” deur South Africa Schools Cycling (SASC). Deon Steyn, president van SASC , se hoof doel met elke wedren is om meer kinders op fietse te kry, om n positiewe lewensstyl te beoefen, om bergfietsry ‘n offisiële skool sport te maak  en om die sport verder te ontwikkel vir die toekoms in Suid Afrika. Die bergfiets disipliene wat beoefen word by die wedrenne is XCO ( cross country) en vereis ryers om tegniese vaardighede te beoefen sowel as kort kragtige rondtes op die roete te handhaaf. XCO is ‘n offisiële Olimpiese sport waarin Suid Afrika al talle kere kon pronk met uitblinker ryers soos James Reid en almal se held, Burry Stander.

Hoërskool ryers van alle skole en provinsies word genooi om die dag saam te geniet en te kompeteer vir die eerste 2017 skole bergfiets wedren titel . Familie en vriende word almal ook genooi om saam te kyk hoe ons talentvolle ryers vaar op die fietse met die mooiste uitsig oor die Magaliesberge.


Vir meer inligting kliek hier